Table of Contents

Do not index
4 maande! 😯
Dis hoe lanklaas ek hier geskryf het (en hoe oud Gabi al is) 😅
Ek wonder nog wat my volgende “blog-tema” moet wees. Binnekort begin ons met babakossies, so dalk deel ek meer daaroor. Alhoewel… ek vermoed my benadering gaan wees om meestal net dit wat ek vir my en manlief maak, vir sussie ook op te zoesh. Ons sal maar sien hoe die avontuur ontvou 🤭
Maar sjoe julle…
Almal sê altyd: “Koester elke oomblik, dit gaan so vinnig.”
En wel…
Hulle jok nie.
Die tyd vlieg.
Miskien is dit hoekom ek nie by skryf uitkom nie. Ek is te besig om vir Gabi te geniet. Elke gummy smile. Elke klein laggie. Elke styf-teen-mamma-slapie. En natuurlik al die melkies 🍼🤭
Nou ja, die winter het behoorlik opgedaag en die laaste paar dae was heerlik koud by ons.
Op hierdie Sondagaand kry ek toe lus vir ’n warm bordjie melkkos.
Kyk hoe sit beide my Joubertjies hier en wag vir hulle melkkos 😜🥣🍼

As ek aan melkkos dink, dink ek dadelik aan my ouma.
Maar nie op die nostalgiese “ag-dis-so-’n-mooi-herinnering”, “melkkos-is-trooskos” manier nie.
Die eerste keer wat ek melkkos geëet het was toe ons vir Oupa en Ouma in Port Alfred gaan kuier het.
Ek onthou hoe opgewonde ek was toe die hele huis soos pannekoek (kaneel) ruik.
Ek het met groot verwagting aan tafel gaan sit…
net om ’n bakkie te ontvang met iets wat, volgens my jong oordeel, verdag baie soos pannekoekdeeg gelyk het 🫣
Ek het laaaaaangtand aan daai melkkos geëet.
Vandag is my gevoel teenoor dit heel anders. ’n Warm bakkie melkkos op sy tyd is nou vir my pure trooskos. Veral op ’n koue wintersdag 🥣🤍
Melkkos is eintlik nogal interessant.
Op sy eenvoudigste is dit maar melk en ’n stysel wat die melk verdik. Maar vra tien Suid-Afrikaners hoe hulle melkkos maak, en jy kry waarskynlik tien verskillende antwoorde.
Party gebruik meel.
Party gebruik mielieblom.
Party gooi sago of selfs pasta by.
Party hou daarvan glad en romerig.
Ander verkies dit vol klonte en stukkies.
Een van die resepte wat ek al gemaak het is my oumagrootjie se weergawe wat basies haar melktertresep met ’n paar aanpassings is. Dis ryk, soet en heerlik danksy die eiers, botter en suiker.
Soveel variasies.
Soveel opinies.
Maar die belangrikste bestanddeel bly die melk. (Iets waarmee Gabi beslis sal saamstem. 😜)
Die resep wat ek gewoonlik maak, is ’n baie eenvoudige een. Net melk, meel, botter en kaneel. Dan bedien ek dit met nóg kaneel in die vorm van kaneelsuiker en sommer ’n handvol gekrummelde Spekulaas-koekies (Biscoff) bo-oor.
Nie te dik nie.
Nie te dun nie.
Nie te glad nie.
Nie te ryk nie.
Net genoeg klonte (vir my in elkgeval 🙃)
Melkkos 🥣
Genoeg vir 4
Bestanddele
- 2 L melk
- 1 Kaneelstokkie
- 1 K meel
- 1 tl sout
- 2 E botter (+ ekstra vir die pot)
- Kaneelsuiker vir opdien
- Biscoff/Spekulaas-koekies vir opdien
Metode
1️⃣ Smeer die bodem van ’n pot liggies met botter (dit help om aanbrand te voorkom).
2️⃣ Giet die melk en kaneelstokkie in die pot en verhit oor medium hitte totdat dit begin kook.

3️⃣ Meng die meel en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte daarin totdat dit soos broodkrummels lyk.

4️⃣ Voeg die meelmengsel by die kokende melk en klits of roer goed met ’n houtlepel totdat alles gemeng is.

5️⃣ Laat prut totdatbdit verdik het, ongeveer 10 minute en roer gereeld om te keer dat dit aanbrand. Dit moet klonterig wees 😉

6️⃣ Bedien warm met kaneelsuiker en gekrummelde Biscoff-koekies.

Written by