Table of Contents

Do not index
Do not index
10 wekies! 🍂
Kwartpad… 😳 Kan dit rêrig al wees?!
Baba-lyfie is hierdie week so groot soos ’n dadel. Ek het net vaagweg genoem dat die week se baba-blog plan met die dadels is om dadelblokkies te maak, en ek neem aan ouma-to-be Carmen wou nie uitmis op hierdie rondte nie… want toe ek weer sien, staan daar ’n CheckersSixty60-mannetjie met bestanddele wat by hulle huis afgelewer word 🤭.
My gunsteling weergawe van dadelblokkies is dié met Rice Crispies vir ’n ekstra snap, crackle en pop. Ek maak dit natuurlik sonder neute (maar dié kan vir seker bygevoeg word as jy wil). Ek het die kombuis ingevaar en begin werskaf, maar halfpad deur hoor my skoonma duidelik hoe ek soek en soek in die kaste. Op ’n stadium vra sy: “Kan ek help?”… en toe ontdek ons die kakaopoeier is op! Vir hierdie rondte moes ek dus ’n bietjie improviseer en hot chocolate gebruik.
Die resultaat? ’n Ligte, melkerige twist op die klassieke resep. Dalk nie so donker van kleur nie, maar steeds net so lekker en taai 🤤



Dadelblokkies 🍂
Bestanddele
- 500 g Botter
- 1 kg Versiersuiker
- 500 g Gekapte Dadels
- 4 E Kakao
- ½ tl Kaneel
- 2 K (160 g) Klapper
- Asook ekstra klapper vir versier
- 4 Eiers
- 2 tl Vanieljegeursel
- ¼ tl Sout
- 250 g Mariekoekies, grofgekap
- 5 K (150 g) Rice Krispies
Metode
1️⃣ Smeer ’n 30x45 cm oondpan met ‘n bietjie botter
2️⃣ Strooi ’n lagie klapper oor die bodem
3️⃣ Smelt die botter en versiersuiker saam oor lae hitte (net smelt, moenie laat kook nie)
4️⃣ Voeg die dadels, kakao, kaneel en klapper by en kook vir 3–5 minute oor matige hitte
5️⃣ Klits die eiers, vanielje en sout saam en voeg dit by die warm mengsel
6️⃣ Roer die koekies en Rice Krispies by en meng goed deur
7️⃣ Druk die mengsel in die voorbereide pan, maak die bokant mooi gelyk en strooi bietjie klapper bo-oor
8️⃣ Laat dit by kamertemperatuur afkoel
9️⃣ Sny in blokkies en sit dan in die yskas om hard te word

Written by