Week 21: Ruby Grapefruit Spritzer

Cheers op ‘n bitter lekker lewe 🥂

Week 21: Ruby Grapefruit Spritzer
Do not index

21 wekies! 🍊

 
Ons Gabriella is die week so groot soos ‘n “grapefruit”, of te wel, ’n pomelo.
 
Nou sien, Afrikaans het darem ’n paar interessante bywoorde, en ’n pomelo kan mens dan so perfek beskryf met die bywoord bitter lekker.
Ek het al gewonder oor uitdrukkings soos bitter baie, bitter mooi en bitter lekker. Soms klink dit half soos lui wees vir ’n beter bywoord, maar dis snaaks hoe bitter lekker tog soms die enigste beskrywing is wat wérk. Want bitter én lekker het albei hul plek.
 
En hierdie week… het altwee saam geloop.
 
Soms het mens net ’n deurmekaar week.
Soms gaan dinge nie soos beplan nie.
Soms sit jy vir dae sonder krag.
Soms is jou to-do lysie net te veel vir een mens.
Soms kry jy dit reg om jouself uit jou eie huis te sluit.
Soms sit jy laat nag in ’n parkeerarea met jou laptop en probeer ’n krisis uitsorteer.
Soms probeer jy so hard om almal te help, en tog word iemand afgeskeep.
Soms is mens se moeg net moeg.
En soms gebeur dit alles in een week.
Bitter.
 
Maar dan, soms gaan dit ongelooflik goed met jou besigheid.
Soms kom daar net geleentheid op geleentheid.
Soms voel elke dag soos die grootste blessing.
Soms voel jy vir die eerste keer jou babatjie binne jou beweeg.
Soms kies ’n paar kiewiete jou tuin as hul nuwe tuiste, en word jy elke oggend wakker met babakiewiete wat oor jou grasperk hardloop.
En soms gebeur dit ook alles in dieselfde een week.
Lekker.
 
Dit was ’n oorweldigende week 🙃
Die lewe is bitter lekker. Daar is goed en kwaad. Daar is maanskyn en rose. Daar is hittegolwe en dorings.
Maar ek kies my lewe elke keer weer.
Ek kies my man elke keer weer.
Ek is bitter gelukkig.
 
Ons sluit die week af met ’n verfrissende Ruby Grapefruit Spritzer (dankie tannie Woolies) om ons baba-lyfie se groei te vier.
Cheers op ’n kleurvolle, bitter lekker lewe 🥂
 
notion image
notion image
notion image
 
 
 

Ek skryf oor kos maak en die mense vir wie ek dit maak

Volg ons kos/baba/lewens-stories

Teken in

Written by