Table of Contents

Do not index
Do not index
31 wekies! 🍆
Hierdie week is Gabi so groot soos ’n eiervrug.
Ek het lankal geweet dat ek vir eiervrug-week ’n dis van my man se oupa George wou maak. Die konkoksie staan in die familie bekend as óf “Brinjals” óf “Olifantbolle” 😂
Nou, ek moet noem, ek het nooit die voorreg gehad om oupa George se weergawe self te eet nie. My benadering tot hierdie dis is dus heeltemal gebaseer op vertellings deur my man en sy familie. Dis dus definitief my twist op oupa George s’n.

Dit alles gesê… was week 31 toe so effens besiger as aanvanklik verwag. Want sien ons het gekies om ’n heel ander olifant, stukkie vir stukkie, te begin eet hierdie Desember.
Ons het ‘n maand terug per toeval ’n huis raakgesien wat in die kompleks waar ons tot nou toe gehuur het, in die mark gekom het en ons het totaal-en-al ons harte op die plek verloor. Om ’n huis te koop is klaar malligheid, om ‘n boedelhuis wat TLC kort te koop is klaar ‘n groot taak, dan praat ons nog nie van trek in die laaste paar weke van swangerskap nie….maar as iets eers jou hart roer en net reg voel, dink mens anders.
Op 31 weke swanger het ons toe gehoor dat ons kan begin okkupeer. Dit het beteken dat ons oor die Desembervakansie rustig kon trek van die ou huis na die nuwe huis. En dis maar goed ook, want iemand is beslis te ver swanger vir ‘n vinnige, haastige “move”.
Maar met soveel vriende en familie wat gewillig was om te help verf, pak en dra, eet ’n mens die olifant eintlik heel gemaklik 😜



So iewers tussen uitpak, bokse skuif en “waar bly my lepels nou?”, het ek toe wel tyd gemaak vir oupa se Olifantbolle.
En sjoewee joewee… was dit nou vir jou ’n lekkerte.
Ons is groot liefhebbers van Mediterreense kos, en as jy ook is, is hierdie dis is beslis een om te probeer, en een wat ek definitief weer sal maak.
Ek het net een groot eiervrug gebruik omdat ek net vir die twee van ons gekook het, maar hieronder gee ek die resep soos wat dit vir 4–6 mense gemaak kan word.



Brinjals
Oupa George se Olifantbolle
Bestanddele
- Skaapvleis vir onder in die kastrol (bv. stowe vleis of ribbetjie)
- 1 Ui
- 5 Eiervrugte
- ½ K Rou Rys
- 800 g Maalvleis
- Vars Knoffeltoontjies (minstens 2 vir die vleis en 1 vir in elke eiervrug)
- Suurlemoen
- Droë Mint
- Sout
- Witpeper
Metode
1️⃣ Kook die skaapvleis stadig in ’n kastrol met gekapte uie, sout en witpeper.
2️⃣ Rol die eiervrugte liggies met jou hande om dit sag en buigsaam te maak. Sny dan die bo-punt af en hol elkeen uit met ’n lepel. Voeg die eiervrug-binnekant en knoffel by die vleis en laat prut.
3️⃣ Meng die rou rys met die maalvleis, en geur liggies met sout en witpeper. Stop elke eiervrug met die vleismengsel (nie te styf nie).


4️⃣ Roer die vleis in die pot deur en pak dan die eiervrugte regop in die kastrol bo-op die vleis


5️⃣ Skep van die vleissous onder uit die pot oor elke eiervrug en plaas 1 knoffeltoontjie bo-op elk
6️⃣ Kook stadig met die deksel op vir ongeveer 1 uur
7️⃣ Wanneer die rys uitgesit het, skep weer van die sous bo-oor
8️⃣ Sprinkel droë mint en ’n bietjie vars suurlemoensap oor
9️⃣ Sit die deksel terug en laat nog 10 minute prut
🔟 Skakel die stoof af en laat die dis ’n bietjie staan om te “trou” voor bedien
Ek het dit bedien met tamatie-slaai en tzatziki sous 😌

Written by