Week 34: Papaya

Week 34: Papaya
Do not index
Do not index

34 wekies! 🎄

notion image
Gabriella is nou so groot soos ’n papaja!
 
Ons vier hierdie week die laaste Kersfees as net man en vrou. Volgende jaar is ons mamma en pappa 🥰
 
Hierdie Kersfees het anders gelyk as wat ons vroeër in die jaar sou dink. Met my wat nou baie ver swanger is, het ons besluit om eerder by die huis te bly as om by my ouers oorkant die waters te gaan kuier soos aanvanklik op die agenda vir die jaar. Selfs ’n Kaap-toe trip het net bietjie té veel gevoel. Dis soms moeilik om lekker vakansieplanne te moet laat gaan, ‘n by-die-huis-Kersfees is beslis nooit hoog op my wenslysie nie 😜 Maar hierdie jaar het dit eenvoudig reg gevoel om stadig te gaan, rustig te wees en nader aan die huis te bly. En darem was dit in ’n nuwe huis, so alles voel steeds vars en anders, dis lekker op ’n ander manier 😊
 
notion image
Ons het Kersdag deurgebring saam met my man se ouers, sy broers, sy ouma en tannie, en ook ou huisvriende (wat nou ook bure is, net-af-in-die-straat) wat ook vir die vakansie tuis was. Dis vir my baie lekker om ‘n huis te wees wat oop is vir almal, waar mense in en uit beweeg, waar kos aanhou uitkom en almal net kan wees. Kersdag was juis so ‘n dag.
 
Daar was gelag.
Daar was uiltjies geknip.
Daar was puzzle gebou.
Daar was vreedsaam verkeer.
 
Vir verwelkomingsdrankies het ek tuisgemaakte eggnog gemaak. Ons is nie so gelukkig soos die Amerikaners wat dit in galonne by enige winkel kan koop nie, maar ek dink my resep (hieronder gedeel ⬇️) is heel lekker, dis romerig en net reg gespice dat dit proe soos Kersfees.
notion image
notion image
notion image
Die 34-weke papaja, saam met pynappel, waatlemoen en ander vrugte, was ’n ligte starter om aan te peusel terwyl manlief aan ’n short rib potjie gewerk het. Ek het ook ’n biltongmousse met koekies gemaak vir voorgereg, dis een van daardie disse wat vinniger verdwyn as wat jy dit kan neersit (ek deel graag tannie Liezel se resep hieronder 😉 ⬇️).
Die hoofmaal was natuurlik ’n mengelmoes van vleise en stysels:
potjie, hoenderpastei, gammon, rys, aartappels en pampoentert.
’n Vol tafel.
’n Vol magie.
’n Nog voller hart. 🤍
 

Eggnog 🎄🥛

 
Bestanddele
  • 10 Eiergele
  • ¾ K Suiker
  • 3 K Melk
  • 2 K Room
  • 1 tl Kaneel
  • ¼ tl Naeltjies (Ground Clove)
  • ¼ tl Nutmeg
  • 1 tl Vanilla
  • 1-2 K Rum, Whiskey of Brandewyn (opsioneel)
notion image
notion image
notion image
notion image
 
Metode
1️⃣ Klits die eiergele en suiker saam tot lig en romerig.
2️⃣ Meng die room, melk en spesrye in 'n kastrol oor medium-hoë hitte - roer gereeld
3️⃣ Skep 'n groot lepel van die warm melk by die eiermengsel, roer goed en herhaal met nog so 6 groot lepels warm melk om die eiers te “temper”
4️⃣ Sodra die meeste van die warm melk by die eiers gevoeg is, gooi die mengsel terug in die kastrol op die stoof
5️⃣ Roer aanhoudend vir 'n paar minute totdat die mengsel effens verdik is
6️⃣ Verwyder van hitte en roer die vanielje en alkohol by
7️⃣ Gooi die eggnog deur 'n fyn sif in 'n houer en bedek met kleefplastiek
8️⃣ Verkoel tot afgekoel, dit sal verder verdik soos dit afkoel
  • As jy 'n dunner, gladder eggnog wil hê, kan jy die hele mengsel in 'n blender voeg en bietjie-vir-bietjie melk bymeng tot glad
  • Sit voor met 'n bietjie kaneel oorgestrooi en vars geklopte room
  • Sal vir 1 week in yskas kan hou
 
notion image

Biltongmousse

 
Bestanddele
1 Ui, fyngekap
1 E Olyfolie
1 blokkie Hoenderaftreksel
100 ml Kookwater
4 tl Gelatien
½ tl Fyn Koljander
2 tl Sjerrieasyn
100 g Biltong, gerasper
3 E Mayonnaise
150 ml Ingedampte melk, styfgeklits
1 K Room, geklits tot styf
 
Metode
1️⃣ Voer 'n 1 liter vorm uit met kleefplastiek
2️⃣ Braai die ui tot sag in 'n pan in die olie en hou dan eenkant
3️⃣ Meng die aftrekselblokkie met die kookwater om op te los
4️⃣ Strooi die gelatien bo-oor en roer om op te los
5️⃣ Gooi die afgekoelde ui met die koljander en die asyn by
6️⃣ Vou die biltong en mayonnaise by die ingedampte melk in
7️⃣ Roer daarna die gelatienmengsel en die room by
8️⃣ Gooi in die voorbereide vorm
9️⃣ Sit in die yskas tot styf en draai uit op ‘n opdienbord
 
Dit is heerlik met roosterbrood of beskuitjies.
notion image

Ek skryf oor kos maak en die mense vir wie ek dit maak

Volg ons kos/baba/lewens-stories

Teken in

Written by