Table of Contents

Do not index
Do not index
37 wekies! 🌿

Ons liefste lyfie is hierdie week so groot soos ’n bossie spinasie.
Ek het dit goedgedink om my skoonma se feta & spinasie quiche te maak vir hierdie week se dis. Maar kyk, ek en die spinasie het mekaar vir dae lank gemis want ek kom net nie so vêr om te gaan shop nie. So, so het die quiche letterlik die héle week lank gecrave.
Hierdie laaste stretch van swangerskap is nogals uitputtend. Nie sleg nie, net uitputtend. Ek slaap bitter min, alles voel swaar, en ek is sommer net ’n bietjie oppielala. As ek eers te lui is om te gaan shop, dan moet jy weet 😜
Een oggend lê ek weer van vyfuur af en draai en woel, na my vroeë draaitjie loop, en toe besluit ek: whelp…as ons nie kan slaap nie, dan ry ons maar winkel toe. Quiche is brekkie.
Ek maak my man net wakker om te sê wat my plan is, sodat hy nie wakker skrik en dink die tyd het aangebreek en ek het myself sommer hospitaal toe gevat nie 🤭
Waddle-waddle deur die Spar vir bestanddele en uiteindelik bak ons die quiche.

Oef… en toe smaak hy presies soos hy moes. Nes ek hom al die hele week lank in my gedagtes geproe het. Dis nou nie asof kaas, bacon en suurroom sommer sal teleurstel nie, maar die lot in hierdie resep van skoonma saamgevleuel is net eenvoudig fabulous.
Skoonma’s kry dikwels ’n slegte naam. Grappe, oogrolle en negatiewe stories is volop. En alhoewel ons in baie opsigte heel verskillende mense is, kan ek eerlik sê: ek is ongelooflik geseënd met my skoonma. Sy help waar dit nodig is, maar sy weet ook wanneer om terug te staan. Sy gee raad sonder om af te dwing, gee soveel om, en het ’n hart wat sommer net goed is.
En dan is daar nog hierdie klein (maar eintlik groot) ding: sy het letterlik die helfte van haar klerekas vir my geleen tydens my swangerskap. Sakke vol hemde en rokkies! Dit het beteken ek kon deur hierdie seisoen gaan sonder om hope geld op maternity klere te spandeer en steeds mooi te lyk en goed te voel. Dis die soort gebare wat nie almal van weet nie, maar wat soveel beteken.
Met net ’n paar weke oor voordat ek self ’n mamma word, besef ek al hoe meer hoe kosbaar hierdie verhoudings is. Hoe mooi dit is om vroue om jou te hê wat jou dra en positief bydra. Wat wys hoe om lief te hê, sonder grense 🌿🤍
Feta, Spinasie & Sampioen Quiche
Bestanddele
Kors
- 60 ml Margarien
- ½ K Cheddar
- 1 K Koekmeel
- 30 ml Koue Water
Vulsel
- 190 ml Feta, gekrummel
- 500g Spinasie
- 1 ml Sout
- 25 ml Olie
- 25 ml Margarien
- 1 K Melk
- 2 Eiers
- ½ K Suurroom
- 5 ml Mosterd
- 300 g Sampioene
- 1 pakkie Bacon
- 5 ml Knoffel
- 100 g Cheddar
- 5 ml Gemengde Kruie
Metode
Kors
1️⃣ Smeer quiche pan met margarien
2️⃣ Meng kors bestanddele en voer pan uit met deeg
3️⃣ Prik met vurk en plaas in yskas vir 30 minute
4️⃣ Bak vir 10 minute teen 180°C



Vulsel
1️⃣ Strooi helfte van die feta oor die kors
2️⃣ Dreineer die spinasie en geur
3️⃣ Verhit margarien en olie in ‘n pan, en braai bacon, uie, knoffel en sampioene, geur
4️⃣ Klits melk, eiers, suurroom en mosterd saam
5️⃣ Sprinkel spinasie oor die feta, dan die sampioene, dan weer feta
6️⃣ Gooi eiermengsel oor, strooi cheddar en kruie oor
7️⃣ Bak vir 45 minute teen 160°C




Written by