Table of Contents

Do not index
Do not index
38 wekies! 🍈
Babalyfie is die week so groot soos ‘n spanspek.

Ek lees op die apps “melon” en moes toe mooi dink wat die Afrikaanse naam is…spanspek 🙃 Wat ‘n interessante woord nou dat ek daaraan dink, span-spek 😅
As daar ooit ’n span was wat ons deur hierdie seisoen gedra het wat verdien om soveel erkenning te kry, is dit Karen en Buanne.
Van die oomblik wat ons vir hulle gesê het Gabi is op pad, was hulle sooo opgewonde, betrokke, en vol liefde. Nie net met woorde nie, maar met dóén.
Van die oulikste uitrustings en kombersies, tot iets veel groter: toe ons in ons nuwe huis intrek, het hulle letterlik vir ’n week ingetrek om te help verf. In daardie week was ek toe ook vrot van die griep (want natuurlik 🙃), en tussen verf, werk en chaos deur, het Karen na my omgesien, van teetjies aandra tot help babakleertjies was en uitsort (want dit was net na my babyshower en die huis was propvol geskenke).

In die nuwe huis hierdie week het hulle gehelp laastes uitpak, meubels skuif, planne maak, en saam met ons die TV-kamer omskep in ’n gastekamer vir my ouers wat in die eerste paar weke van Gabi se koms hier gaan wees. Alles sodat ons huis regtig soos ’n tuiste kan voel, presies toe ons dit die meeste nodig gehad het.
Daardie aand, ná al die geskuif en gesweet, het ons saam gebraai. Buanne het hul signature roosterkoeke gemaak wat ons geniet het saam met ’n keur van heerlike konfyt wat hulle vir ons gebring het ná ’n Kaapstad-trippie die week tevore.
Een daarvan was Spanspek & gemmer-konfyt.
Toevallig perfek vir ons spanspek-baba die week 🍈🤍



Dis moeilik om in woorde vas te vang wat dit beteken om mense in jou lewe te hê wat opdaag sonder om gevra te word. Wat help sonder om krediet te soek.
En dit hou nie op by die Engelbrechts nie. Daar is nog vele vrinne spanne wat ongevraagd opdaag en betrokke is. 38 wekies in, word ek net weer herinner: hierdie baba word gebore in ’n wêreld vol liefde, nie net van mamma en pappa nie, maar van ’n hele span wat haar reeds so liefhet 🥰
Written by