Week 6: Mujadara (Lebanese Lensierys)

Week 6: Mujadara (Lebanese Lensierys)
Do not index

6 wekies! 🍚

’n Lensie. Dis hoe klein die lyfie binne-in my op hierdie stadium is. Dis eintlik ongelooflik om te dink iets só klein kan só ’n groot invloed hê.
 
Ek het nogal gewonder, hoe weet mens jy’s regtig swanger as jy nog niks kan sien of voel nie?
Wel… die antwoord (het ek hierdie week uitgevind) is moegheid en naarheid 🙃
 
Ek, wat altyd lus is vir kuier, eet, werk, planne maak en dinge doen, is skielik ’n ander mens. Een oomblik dink ek: nou gaan ek gou daai e-posse uitsorteer… en die volgende oomblik moet ek keer dat my voorkop nie op die glasblad van ons kantoortafel neerslaan nie. Genugtig! En dis nog net die moegheid, van die naar wees praat ek nie eers nie 🙈
 
Maar dit beteken net een ding: daar is beslis baie besig binne-in my, en dít maak my sommer baie opgewonde.
 
So ja, ek het lensies gekoop vir die week se 6-weke dis. Ek hét gedink om Mujadara te maak… maar ai, die energie was net nie daar nie. My kombuis is gewoonlik my happy place (veral na ‘n lang, besige, moeilike dag is daar vir my niks lekkerder as om ‘n heerlike aandete aanmekaar te slaan nie), maar vir nou moet hy wag tot ek weer soos ’n mens voel (hulle sê glo ná 12 weke raak dit makliker, fingers crossed 🤞).
 
Ek deel graag steeds die resep wat ek sou gebruik het. Lensies is een van my man se gunstelinge, en die resep het ek laas jaar “per ongeluk” raakge-google opsoek na iets interessants om met lensies te maak en ons was mal daaroor. Die resep kom van Yumna se webtuiste, feelgoodfoodie.net.

Mujadara

Voorbereidingstyd: 10 minute
Gaarmaaktyd: 35 minute
Porsies: 8

Bestandele

  • 1 koppie Wit Basmati Rys, afgespoel
  • 4 ½ koppies Water (plus ekstra om die rys te week)
  • ½ koppie Olyfolie
  • 2 groot Uie, in dun repies gesny
  • 2 koppies Bruin Lensies, afgespoel en gedreineer
  • 1 teelepel Sout
  • 2 teelepels fyn Komyn (Cumin)
 

Metode

1️⃣ Bedek die rys in ’n medium-grootte bak met koue water en laat week.
2️⃣ Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol oor hoë hitte. Voeg die uie by en roer aanhoudend tot dit diepbruin en bros aan die kante is. Skep uit met ’n gaatjieslepel, plaas op kombuispapier en hou eenkant. Hou die olie.
3️⃣ Plaas die lensies in ’n ander kastrol met water. Bring tot kookpunt, verminder hitte en sit ’n deksel op. Laat prut vir 15 minute.
4️⃣ Dreineer die rys wat geweek het, spoel af en voeg dit by die lensies saam met die sout. Roer een keer deur, sit die deksel terug en kook nog 15 minute.
5️⃣ Haal van die hitte af en laat rus, bedek, vir 5 minute. Voeg die komyn by en roer die rys en lensies liggies deur met ’n vurk.
6️⃣ Giet die oorblywende olie oor en bedien die gereg met die bros uie bo-op.
 
Bedien warm. Dis lekker saam met ‘n tzatziki/jogurtsousie en lam- of beessosaties.
 

Ek skryf oor kos maak en die mense vir wie ek dit maak

Volg ons kos/baba/lewens-stories

Teken in

Written by