
Do not index
Do not index
7 wekies! 🫐
’n Blueberry - dis hoe groot lyfie hierdie week is. Ek het weereens probeer om die baba-foodie-blog aan te hou en blueberry muffins te bak…maar toe slaan die naarheid my behoorlik hierdie week.
Ai, die tweede week wat my weeklikse baba-foodie-blog plan net nie wil uitwerk nie. Smaak my dié plan het vinniger gefaal as enige van my New Year’s Resolutions 😅
My dieet bestaan die week basies uit drie dinge: Tuc-koekies, Lays Plain Salted chips en so nou en dan ’n Ouma-beskuitjie. Enige iets sonder geur is ’n wen. Ironies genoeg vir iemand wat mal is oor kos, kan ek nie eers dink aan enigiets met te veel smaak eet tans nie 🙃
Ek het een dag die week probeer om darem iets met proteïen in te kry. So ek besluit ek maak sommer eenvoudige mince-en-rys. Myne kry net sout. Niks meer nie. Geen speserye, geen sous, geen geur. Net sout. 🤦♀️
Maar ek het jammer gevoel vir manlief en wou nie vir hom ook sulke vervelige kos gee nie. Ek besluit dus ek maak vir hom kerrie mince – sonder om dit te proe natuurlik, want ek wou glad nie eers daaraan dink om enigiets geurigs in my mond te druk nie. So sit die arme man aan tafel en SWEET soos hy probeer om sy bord klaar te maak… Ek het per ongeluk die mince besonders SPICY gemaak! 🔥
Die snaaksste deel? Ons het net voor ek die kos begin maak het ’n klein tiffie gehad. Hy kyk my toe aan, met trane in sy oë van die brand, en sê:
“Ek gaan nooit weer met jou stry as dít is hoe jy terug fight nie” 🤣
So ja, die blueberries bly vir nou maar nog in my vrieskas tot ek lus het vir muffins, maar darem het ek ’n kos-storie om te deel vir die week 🤭
Hiermee deel ek graag die Blueberry Muffin-resep wat ek sou maak. Dis ’n “hoër” proteïen muffin, perfek vir ’n vinnige ontbyt. My man was nog nooit groot op ontbyt nie, en omdat hy ook nie regtig eiers eet nie, kan dit nogal ’n uitdaging wees om dan proteïen in ‘n brekkie in te werk. Hierdie resep het ek spesiaal bymekaar gegooi om dit makliker te maak, dis vinnig, eenvoudig, en dit vries ook uitstekend.
Blueberry Protein Muffins 🫐
Bestanddele
- 130 g Blueberries (gevries of vars)
- 100 g Vanilla Whey Protein
- 120 g Koekmeel
- 60 g Mieliemeel
- 1½ tl Bakpoeier
- 1 tl Koeksoda
- ½ tl Sout
- 2 E Suiker
- 2 Eiers
- ½ K Melk (plus ekstra indien nodig)
- 3 E Gladde Maaskaas (of Greek Yoghurt)
- 1 tl Vanieljegeursel
Metode
1️⃣ Voorverhit jou oond tot 200°C (400°F) en berei ’n muffinpan voor
2️⃣ Indien jy gevriesde bessies gebruik: Plaas dit in ’n mengbak, strooi 1 eetlepel meel oor en skud liggies tot die 🫐 bessies bedek is (dit keer dat hulle die beslag verkleur)
3️⃣ Sif en meng al die droë bestanddele saam
4️⃣ In ’n aparte bak, klits die eier, melk, maaskaas en vanielje saam tot glad
5️⃣ Meng die nat en droë bestanddele
6️⃣ Indien nodig, voeg ’n bietjie ekstra melk by, die beslag moet styf maar steeds vloeibaar wees
7️⃣ Vou die 🫐 bessies liggies in
8️⃣ Skep die beslag in die muffinpan, ongeveer ¾ vol 🧁
9️⃣ Bak vir 10–15 minute of tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom

Written by