Week 23: Patatrol

Hopelik is ons patat ook altyd mooi soet wanneer ons haar met room smeer en lekker styf toedraai in ‘n bersie ☺️

Week 23: Patatrol
Do not index
Do not index

23 wekies! 🍠

Baba-lyfie is die week so lank soos ’n patat.
 
Die vrugte-in-my-hand-foto’s was aanvanklik heel cute… maar ek moet sê, die groente begin nou al hoe meer verdag lyk 😂
Elkgeval…ek plaas hulle maar steeds hier 👀
 
notion image
As jy ’n oudste kind is wat met ’n oudste kind trou, dan beteken dit daars jonger kinders in albei families. In ons geval is daar sommer nog vier skoolgaande boetas (wel, my middelboetie het nou in September actually begin swot, die Amerikaanse kalender werk mos bietjie anders). Nou wat interessant is, is aan albei kante van die waters gebeur daar eintlik presies dieselfde dinge met die Joubert- en Kruger-boetas. As die tieners wil kuier, dan nooi hulle hulle tjommies oor, en die ouers moet uit die pad uit. My ouers gaan dan skuiling soek by hulle oulike bure, en my skoonouers klop gewoonlik by ons aan 😜
Dis eintlik vir my mooi.
Mag my huis ook altyd die huis wees waarheen mense wil kom, waarheen die kinders hulle maatjies bring, waar ek bont staan met kossies en koelas vir die massas, en waar daar altyd plek is vir nog een bordjie.
Dit sal my hart vol maak 💛
 
Terwyl ek gou by Spar gestop het vir melk, sien ek toe ‘n heel hoender in die yskas. Iets wat eintlik só maklik is om te maak, maar wat ek snaaks genoeg selde doen. Ek besluit toe sommer impulsief: ag man, ek koop hom en pop hom in die oond vir saam met hierdie week se patats. Dis al die hele week lank aan-en-af aan’t reën, so my plan vir steak en soetpapatpotjie op die kole wil nie realiseer nie, en hierdie is ‘n goeie alternatief. Ek was toe ook lus vir iets kaneel- en gemmerigs, en besluit toe dat ek patatrol gaan maak instede van net opgekookte patats.
Met heeltemal ‘n ander plan vir die week se patat-dis, staan ek aan die prep en besef ek is nou omtrent besig om ‘n ganse Sondagmiddagete aanmekaar te slaan en dit net vir my en my man. Aw well… 😅
En toe wraggies, my skoonma (skoonpa is weg vir werk) word uit haar huis geskop omdat die manne weer ’n kuier hou. Sy beland toe lekker met haar gat in die botter, want by ons wag daar toe sommer ’n hele ete. Ek het nie geweet hoekom ek só lus was om te kook nie, maar toe vind ek uit. My foodie- én mamma-to-be-hartjie was sommer baie happy.
Nooi jouself gerus na ons toe, jy weet nooit wat op die spyskaart wag nie 🤭

Patatrol 🍠

Dít is een van daai boere, stoute, poeding-as-bygereg disse. Basies pampoenpoffertjies se nefie. Ek volg ook selde ’n resep hiervoor, ek maak maar soos ek smaak. Partykeer los ek die lang rol net so en sny net ’n paar slits in, ander kere sny ek hom heeltemal in wieletjies en pak hulle teen mekaar amper soos cinnabuns.
Die belangrikste reël: daar móét room en bruinsuiker in wees. Verder kan jy maar speel soos jy wil. Die keer het myne só gelyk:

Bestanddele

  • 4 Patats
  • 1 rol Puff Pastry
  • ½ K Gemmerkoekies, fyngedruk
  • 2 tl Kaneel
  • 4–8 E Bruinsuiker (of dalk meer, mens tel nie eintlik nie 🤫)
  • 1 K Room
notion image

Metode

notion image
1️⃣ Ek het die keer sommer die patats saam met die hoender in die oond gebak tot sag, daarna skil verwyder en fyngedruk. Jy kan dit ook eers skil, dan kook, dreineer en fyndruk.
2️⃣ Rol die puff pastry oop en smeer die fyngedrukte patats oor
notion image
3️⃣ Strooi kaneel, bruinsuiker en die helfte van die gemmerkoekies oor
4️⃣ Rol die deeg op en sny in wieletjies
notion image
5️⃣ Pak teen mekaar in ’n oondvaste bak
6️⃣ Strooi die res van die gemmerkoekies en nog ’n bietjie suiker oor
7️⃣ Giet die room bo-oor
notion image
8️⃣ Bak op 180 °C vir so 30 min, tot goudbruin en borrelend
 
 
 

Ek skryf oor kos maak en die mense vir wie ek dit maak

Volg ons kos/baba/lewens-stories

Teken in

Written by