Table of Contents

Do not index
Do not index
24 wekies! 🌽
Ons baba-lyfie is die week so lank soos ‘n mielie.
Mielies laat my altyd aan my moeder dink, sy is MAL oor ‘n mielie! My man was behoorlik verstom toe hy die eerste keer sien hoe die tannie wat oor die algemeen klein porsies eet mielies kan inryg 🤭

Ons gaan beslis êrens die week ‘n mielie saam met ‘n gebraaide vleisie ook geniet, maar vir die baba-foodie-blog het ek besluit om my ma se mieliebroodjie bak 🌽🍞
Dis vinnig, eenvoudig, en perfek saam met ontbyt, braaivleis, of sommer net warm uit die oond met botter wat stadig in die krummels in smelt 🤤
Terloops, hierdie broodjie maak baie krummels. Jy was gewaarsku 😜

In my ouerhuis was daar altyd êrens krummels. Krummels beskuit op my ouers se bed waar ons almal sit en oggend-koffie saam geniet het. Krummels brood op die kombuisblad as iemand vir homself ‘n toastie gemaak het. Krummels koek en suiker op die kombuisvloer as Christi iets gebak het. Krummels onder die eetkamertafel waar ons elke ete saamgesit en smul het.
Krummels. Hulle kan dalk irriterend wees om op te vee…maar eintlik is dit ’n teken van ’n goeie tyd. Waar daar gelag, gekuier en lekker geëet is, is daar altyd ’n spoor van iets agtergelos, ’n bewys dat mense saam was.
In die lewe los ons ook krummels vir mekaar:
wysheid, raad, herinneringe, klein oomblikke van liefde en genade.
En wanneer jy soms nie weet hoe om vorentoe te gaan nie, kan jy terugstap, daardie spoor van krummels volg en ontdek dat jy, heeltyd, meer as genoeg gehad het: mense, liefde, leiding, en genade om elke draai.
So gooi mielies!
Leef voluit.
Geniet jou mense.
Lag hard.
Laat die botter smelt en laat die krummels val, dis die tekens van ’n mooi lewe.
My Ma se Mieliebrood 🌽
Prep Tyd: 15 min | Bak Tyd: 25 min | Maak: 1 broodjie
Bestanddele
- 1 K Mieliemeel
- 1 K Meel
- ¼ K Suiker
- 3 tl Bakpoeier
- 1 tl Sout
- 1 K Melk
- 1 Eier
- ¼ K Olie

Metode
1️⃣ Voorverhit die oond tot 220°C (425°F)
2️⃣ Meng die mieliemeel, meel, suiker, bakpoeier en sout
3️⃣ Klits die melk, eier en olie in ‘n aparte bak
4️⃣ Meng die nat en droë bestanddele

5️⃣ Vir Brood: Giet die beslag in ‘n broodpan (of oondvaste bake) en bak vir ⏰20-25 minute;
Vir Muffins: Skep die beslag in ‘n muffinpan, maak die holtes so ⅔ vol en bak vir ⏰15-20 minute

6️⃣ Geniet! Hy is lekker met net ‘n bottertjie op, met heuning of jêm vir die soettande, óf vir die souttande saam met kaas, Bovril/Marmite, of met die lekker pan-sous wat oorbly na ek boerewors in die skillet gemaak het soos vanoggend 😉

Written by